Skip to content

Genesis 45-46

Genesis 45-46

45:1 Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie.

45:2 Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het.

45:3 En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom.

45:4 Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.

45:5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.

45:6 Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie.

45:7 Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.

45:8 Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.

45:9 Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: God het my ‘n gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie!

45:10 En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit.

45:11 En ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort.

45:12 En kyk, julle oë sien dit, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek.

45:13 Vertel my vader dan van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het, en bring my vader gou hierheen af.

45:14 Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy hals geween.

45:15 En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gespreek.

45:16 Toe die gerug in die huis van Farao gehoor word dat Josef se broers gekom het, was dit goed in die oë van Farao en van sy dienaars.

45:17 En Farao het met Josef gespreek: Sê aan jou broers: Doen dit, laai julle diere en trek weg na die land Kanaän.

45:18 En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land.

45:19 Jy kry dan bevel–doen dit: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom.

45:20 En julle hoef geen spyt te hê oor julle huisraad nie, want die beste van die hele Egipteland is julle s’n.

45:21 Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis.

45:22 Hy het aan hulle almal, man vir man, ‘n stel nuwe klere gegee; maar aan Benjamin het hy drie honderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee.

45:23 En net so het hy ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis.

45:24 Daarop het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek; en hy het aan hulle gesê: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.

45:25 En hulle het opgetrek uit Egipte en in die land Kanaän aangekom by hulle vader Jakob.

45:26 Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog–en dat hy regeerder is in die hele Egipteland–het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.

45:27 Maar toe hulle hom al die woorde van Josef te kenne gee wat hy met hulle gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van Jakob, hulle vader, lewendig geword.

45:28 En Israel het gesê: Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.

46:1 En Israel het weggetrek met alles wat aan hom behoort het, en in Berséba gekom; en hy het offerandes gebring aan die God van sy vader Isak.

46:2 En God het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê: Jakob, Jakob! En hy antwoord: Hier is ek!

46:3 Toe sê Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ‘n groot nasie maak.

46:4 Ek sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat optrek; en Josef sal jou oë toedruk.

46:5 Daarna het Jakob weggetrek van Berséba af. En die seuns van Israel het hulle vader Jakob met hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat Farao gestuur het om hom te vervoer.

46:6 En hulle het hul vee en besittings geneem wat hulle in die land Kanaän verwerf het, en in Egipte gekom, Jakob en sy hele geslag saam met hom:

46:7 sy seuns en sy kleinseuns saam met hom; sy dogters en kleindogters en sy hele geslag het hy saam met hom in Egipte gebring.

46:8 En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het–Jakob en sy seuns. Die eersgeborene van Jakob was Ruben.

46:9 En die seuns van Ruben: Henog en Pallu en Hesron en Karmi.

46:10 En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou.

46:11 En die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merári.

46:12 En die seuns van Juda: Er en Onan en Sela en Peres en Serag. Maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän; en die seuns van Peres was Hesron en Hamul.

46:13 En die seuns van Issaskar: Tola en Puwa en Job en Simron.

46:14 En die seuns van Sébulon: Sered en Elon en Jágleël.

46:15 Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met sy dogter Dina; al die siele van sy seuns en dogters was drie en dertig.

46:16 En die seuns van Gad: Sifjon en Haggi, Suni en Esbon, Eri en Aródi en Areëli.

46:17 En die seuns van Aser: Jimna en Jiswa en Jiswi en Bería en Serag, hulle suster; en die seuns van Bería: Heber en Málkiël.

46:18 Dit is die seuns van Silpa wat Laban aan sy dogter Lea gegee het; en sy het vir Jakob hierdie sestien siele gebaar.

46:19 Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob: Josef en Benjamin.

46:20 En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim wat Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het.

46:21 En die seuns van Benjamin: Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim en Huppim en Ard.

46:22 Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is, almal saam veertien siele.

46:23 En die seuns van Dan: Husim.

46:24 En die seuns van Náftali: Jágseël en Guni en Jeser en Sillem.

46:25 Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het; en sy het hulle vir Jakob gebaar, almal saam sewe siele.

46:26 Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses en sestig siele.

46:27 En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig.

46:28 En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef, dat dié voor hom uit die pad moes wys na Gosen; en hulle het in die land Gosen aangekom.

46:29 Toe span Josef sy wa in, en hy trek op, sy vader Israel tegemoet na Gosen. En toe hy homself aan hom vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween.

46:30 En Israel sê vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef!

46:31 Daarna het Josef met sy broers en die huis van sy vader gespreek: Ek sal optrek en aan Farao vertel en aan hom sê: My broers en die huis van my vader wat in die land Kanaän was, het na my gekom.

46:32 En die manne is herders van kleinvee–want hulle was veeboere–en hulle het hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring.

46:33 En as Farao julle laat roep en sê: Wat is julle nering?

46:34 dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe, ons sowel as ons vaders–sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke herder van kleinvee is vir die Egiptenaars ‘n gruwel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *